Om kind te wees

Dis lekker om ‘n kind te wees. Dis mos wanneer mens groei. En speel. Al die lekker dinge doen, sonder om te worry oor reëls en grense en goeters. As mens ‘n kind is, het jy ‘n lisensie om net te speel en nuwe goed uit te probeer. En om te leer. 

Kinders is mos soos ‘n spons; hulle neem net in. Alles is nuwe avonture. Die hele grote, nuwe, wêreld gaan oop soos ‘n storieboek. Soos ‘n groot, groen waatlemoen wat oopbreek; en daar binne is pikswart pitte en bloedrooi, sappige waatlemoen! MMMMM... 

Maar in byna elke klas is daar kinders vir wie ‘n waatlemoen bloot net kos is... Dis juis die ding, sien: hierdie kinders dink heeldag aan kos. Elke dag. Heeldag. Hulle is net heeldag honger. Honger honger honger. 

Hul ouers kan dit nie bekostig om vir hulle kos te gee skool toe nie, al wil hulle hoe graag. Dit maak hulle hartseer, maar daar is niks wat hulle kan doen nie. En as hul maats hulle toebroodjies en lekkers eet en sap drink, dan sit dié kinders eenkant en maak of hulle nie omgee nie. Of hulle gebruik die kans om maar water te gaan drink; dit maak darem hul mae vol. Hulle is moeg..., verward..., gefrustreerd..., maar veral honger. 

Hulle onttrek sosiaal en het binnekort nie meer maats nie. Hulle raak agter met skoolwerk omdat hulle nie in die klas kan konsentreer nie. Die kinders spot hulle. Alles net omat hulle heeltyd honger is. Maar die ergste van alles is dat daar baie, baie sulke kinders is wat skoolbanke deel met ons eie kinders. 

Die kinders waarvan ons weet is maar net die tippie van die ysberg. As ‘n kind net elke dag ‘n broodjie of iets te ete kan kry, sal dit baie makliker wees om skoolwerk te kan doen. 

Hulle sal weer maats hê... en miskien, as hulle gelukkig is, weer saam kan lag...

Die Vryburgers van George

Ons gaan nie net staan en kyk hoedat een enkele kind op ons eie drumpel sukkel in die skool nét omdat hy of sy nie iets te ete kan bekostig nie. En die probleem is regtig net die tippie van die ysberg: daar is duisende kinders in en óm George wat op ‘n daaglikse basis op skool kwyn; bloot uit honger. 

Sommiges se ouers is te trots om hulp te vra; ander te skaam. Maar hul kinders sit op die banke tussen ons kinders wat salig onbewus is van hul eenvoudige probleem. Ons onderneem om deur ons netwerk van vriende en kollegas op ‘n maandelikse basis genoeg fondse in te samel om die skole in staat te stel om aan elke kind wat dit eenvoudig nie kán bekostig nie, daagliks van ‘n toebroodjie, sap en ‘n vrug te voorsien. 

Die skole kan dit nie alleen aanpak nie. Hulle het ons het hulp nodig. Die skole sal al die logistieke aankope, verwerking en verspreiding van kospakkies hanteer. 

Ons vra almal wat moontlik kán (besighede of individue) om deel te neem deur finansieël by te dra. Elke sent sal direk by die skole uitkom. Ons versoek almal wat soos ons voel, om op ‘n maandelikse basis R100 of meer deur debiet orders aan projek KOS VIR KINDERS af te staan. Elke R100 sal vir ongeveer 4 kinders vir ‘n maand kan sorg op hierdie manier. Oortuig jul netwerk van kennisse om ons hier te ondersoek.

Die verskil is nie net ‘n vol magie nie; maar ‘n vol lewe.